Ai daai Portugese… hulle het gehad wat nodig was!

Voorblad van Suiderkruis: raakpunte tussen Portugal en Suid-Afrika deur vyf eeue.

Op die internet loop ek die volgende Vlaamse inskrywing raak: “Het jaar 1572. Luis Vaz de Camões schrijft zijn Os Lusiadas, het epos dat de grote heldendaden beschrijft van de Portugese voorouders. Dit epos is een belangrijke literaire bron die kostbare informatie bevat over de eerste ontmoeting met Zuid-Afrika.”

Inderdaad is die gedig van De Camões (c.1524-1580) die eerste verwysing na die Kaap van Storms wat ons in literatuur raakloop.

Die Vlaamse artikel meld ook dat daar sover drie Afrikaanse historiese romans geskryf is met die naam “Adamastor” in die titel.

Een is die jeugroman Een teen Adamastor, uitgegee deur Maskew Millar Longman (2013). Aangesien ek die “skuldige” is, sal ons nie daarop uitbrei nie.

Die ander twee skrywers was, wel, bona fide skrywers: wyle André P. Brink se Die eerste Lewe van Adamastor (1988) en Children of Adamastor (2001) deur Anthony Fleischer.

Aangaande die akademiese besprekings van die vermelde romans, die volgende: die aannames wat akademici maak oor “wat die skrywer eintlik sou bedoel het,” glo my, ek was verstom oor wat ek “eintlik bedoel het.”

Van die ander, die regte skrywers, weet ek nie – dalk hét hulle dit bedoel.

Maar, die rede waarom ek dié onderwerp gekies is, is die ou storie van die “sinchronisiteit” van boeke.

’n Rukkie gelede maak ek ’n kortverhaalbundel (saamgestel deur wyle Hennie Aucamp) oop en daar is dit op bladsy 241: “Uit: Os Lusiádas, deur D.P.M. Botes; vertelling oor Adamastor, die titaan (’n soort half-god) wat óf storms veroorsaak óf voorspel het, hang af wie jy vra. Die bundel se naam is Wys my waar is Timboektoe (Tafelberg, 1997).

En toe, vanoggend, maak ek ’n boek oop waaroor ek al lankal wou skryf – O.J.O. Ferreira en Schalk W. le Roux se pragtig-versorgde boek Sagres & Suiderkruis: raakpunte tussen Portugal en Suid-Afrika deur vyf eeue, uitgegee deur – ja, raai, Adamastor Uitgewers, in 2009.

Nou ja, vergewe my, soos Luther staan ek hier en ek ká* nie anders nie… te veel om te ignoreer.

Enigeen wat die laaste 20, 30 jaar geskiedenis in ons land op skool gehad het, behoort te weet dat Sagres die plek is waar seevaarders opgelei was om Portugal se handelsbelange na die Ooste te bevorder.

Deur die befaamde Prins Hendrik die Seevaarder, wat ironies, nooit op enige see gevaar het nie.

Nietemin, die prins het die geld verskaf en Portugal sou daaruit heelwat méér munt slaan.

Wat die boek van Ferreira en Le Roux betref, is daar veel om oor te skryf.

Soos oor die Portugese se reise om die Kaap, oor kartering en skeepswrakke en latere Afrika-verbintenisse soos in Angola en ook die Portugese se kulturele en kunsbydrae in Suid-Afrika. Alles temas wat later in hierdie rubriek bepreek kan word.

Nou eers, Adamastor. In die hoofstuk “Taal en woordkuns,” is drie onderafdelings wat my interesseer en dadelik gelees het: eerstens “Luis Vaz de Camões,” tweedens “Os Lusiadas, Portugal se nasionale epos” en derdens “Adamastor, gees van die Stormkaap.”

Adamastor se naam, terloops, is moontlik van Adam afgelei, of dalk van die Griekse woord “adamastos,” wat “wild” en “ongetem” beteken, beweer die bronne.

En in 1880 het hy in een van vele verwerkings van die oorspronklike verhaal selfs aan Vasco da Gama verskyn.

Die oorspronklike Adamastor was verlief op ’n bosnimf genaamd Thetis, maar sy het hom verwerp en die gode, Zeus en Hera, het Thetis verplig om met ene Peleus te trou.

Hulle seun was toe Achilles, die held van die Trojaanse oorlog. Adamastor was verbitterd oor dié verwerping en het teen die gode in opstand gekom.

Sy straf was dat die gode hom in ’n ruwe rotsberg verander het, geleë aan die suidpunt van Afrika.

Hoekom daar? Want hy moes keer dat die seuns van Lusus, die Portugese, daar verbykom.

Ferreira en Le Roux som dit so op: “In Adamastor het Camões ’n nuwe mitologiese figuur geskep, die enigste groot figuur wat sedert die klassieke tydperk tot die mitologie toegevoeg is. Deur Adamastor aan die Kaap te plaas, het die digter Suider-Afrika binne die invloedsfeer van die klassieke gode gebring.”

Ek het al ’n paar maal oor Portugal se bydraes tot ons vroeë geskiedenis in hierdie rubriek geskryf, soos oor posklippe en dies meer, en daar is veel meer wat nog hieroor gesê kan word.

Dog, om eers af te sluit, net dit nog: Ek het in 2004 die voorreg gehad om Sagres en ander Portugese stede te besoek, en ek was mateloos beindruk met die werkywer en inisiatief van die Portugese.

To our Portugese friends, may I say I adore your Port, some of which I bought at Porto, but sadly is now only a distant memory… but until next time I will make do with the products of Calitzdorp, Saúde!

This will be Francois Verster’s last history column in Bolander.