Die Afrikaans Interskole Debatsliga deur Paul Roos Gimnasium (PRG) aangebied, het weer vanjaar op Woensdag Februarie 16, afgeskop.
Die kompetisie het verlede jaar begin nadat debatsafrigter en organiseerder van die liga, Adia van Staden en haar span by PRG Forum, besluit het om hul eie Interskole Liga in 2021 te begin toe alle debatskompetisies weens Covid-19 gestaak is.
Die kompetisie sal sedert hierdie eerste aanbieding verlede maand, nou een keer per maand tot aan die einde van die jaar by die skool aangebied word.
Volgens ’n mediaverklaring deur die skool uitgereik, het die eerste kompetisie reeds 84 sprekers betrek wat die hoërskole: Meisieskool Bloemhof, Hoër Jongenskool Paarl, Hoërskool DF Malan, Durbanville Hoërskool, Stellenbosch Hoërskool, Parel Vallei Hoërskool en Stellenberg Hoërskool sal verteenwoordig.
Junior en senior spanne wat inskryf, kry die geleentheid om een keer per aand hul toesprake te lewer, en kompeteer uiteindellik teen ‘n verskeidenheid van deelnemende spanne deur die jaar. Volgens die skool is die fokus op onvoorbereide en minder formele debatte en onderwysers tree as beoordelaars op.
Leerlinge ontvang terugvoer na afloop van die aand, die wenspan van elke debat word aangekondig, asook die beste spreker van elke debat.
“Leerders se selfvertroue en praatvaardighede ontwikkel ongelooflik deur hul deelname aan dié debatsliga”, meen me. Van Staden.
“Die PRG Afrikaans Interskole Debatsliga skep meer geleenthede vir debatteerders om gereeld teen mekaar te kompeteer. Voorheen het spanne slegs een keer gepraat as hulle nie na die semi-finale deurgedring het nie. Met behulp van ons eie liga, skep ons ruimte vir verdere ontwikkeling”.
Met die debatliga wil die skool hul leerlinge bevoeg om hul uitgangspunte duidelik en logies te stel, om beleefd met mekaar te kan verskil, en sodoende leerders die gemeenskap in te stuur wat nasiebou in Suid-Afrika bevorder.
“Leerders leer om krities te lees en vir hulself opinies te vorm. Ons is dankbaar vir ENSafrica se betrokkenheid as die nuwe amptelike borg van PRG Forum (die praatkunste), en hoop om te leer by mense wat in die praktyk staan deur hulle as mentors in te span.”
Paul Roos se junior span bestaande uit: Johan Smuts, Ian Lubbe en Damian de Lange, het reeds met die eerste rondte van die liga, Parel Vallei Hoërskool in die onderwerp “Beskermende ouers is beter vir die modern kind se ontwikkeling” gewen.
Die eerste seniorspan bestaande uit; Jordan Cridland, Christian Sander en Steffan Thielen, het DF Malan geklop met die onderwerp “Gegradueerdes is belangriker vir die SA-samelewing as ambagte”.
DF Malan het egter PRG se tweede seniorspan bestaande uit Dirk Guelpa, Waldo Bonthuys en Rossouw van Niekerk, gewen.
Die volgende debatsliga datums sal plaasvind op Woensdag 13 April vanaf 17.45 tot 19.45 en op Woensdag Mei 11, vanaf 17.45 tot 19.45. Vir verdere navrae oor die debatliga, stuur ’n e-pos na, avstaden@paulroos.co.za