Adam Small gedenk op Pniël fees

Helen Zille en Darryl David in gesprek in die Congregational Kerk.

Hierdie Bolandse dorpie het vanjaar sy eerste boekefees aangebied, en feesgangers het sedert Vrydag 24 Februarie tot Sondag 26 Februarie sowat 30 items bygewoon, oor ’n wye spektrum van onderwerpe, maar hoofsaaklik is op Adam Small gefokus.

Hy was oorspronklik van Wellington, later het hy selfs in Johannesburg gewoon, maar wat bo alles saak maak is dat hier mense byeengekom het wat Afrikaans in al sy tongvalle koester, soos hy dit altyd wou hê.

Daryl David, hoogleraar in Afrikaans en bekende feesorganiseerder, het met die idee na Matthew Cyster, passievolle kampvegter vir Pniël se kultuur en mense gekom.

’n Formidabele lys sprekers is opgestel – behalwe die uwe wat net daar verbygekom en toe onder ’n wip gevang is – en Darryl, Matthew en almal wat meegehelp het om die fees te laat realiseer, verdien groot bewondering vir wat hulle vermag het.

Ja daar was ’n paar groot name, soos Hein Willemse, Michael de Cordeur, Steward van Wyk, Braam de Vries, Breyten Breytenbach, Wium van Zyl, Etienne van Heerden, Daniel Hugo, asook Willie Bester, Amanda Botha, Helen Zille en Albie Sachs.

Maar, meer oor die program en wat daar bespreek is: ek kon nie al die items bywoon nie, so ek sal fokus op die wat ek wel meegemaak het.

Kunstenaar Willie Bester het Vrydagoggend oor sy vormingsjare en sy werk as skilder en beeldhouer gepraat, oor sy stryd om ’n eie identiteit en sin vir selfwaarde te bekom, gerugsteun met visuele materiaal van sy werk en werkplek.

Willie se storie het die aanwesiges aangegryp en baie van hulle kon hul met sy worsteling vereenselwig, hoewel Willie se omstandighede in Montagu tog met die van Pnië* verskil het in die opsig dat die Pniël-gemeenskap ’n besondere hegte samesyn en eiewaarde het, as’t ware een groot familie is, al sedert die dorp in 1843 as ’n sendingstasie gestig is – hier het die kerk waaragtig wonderlike werk gedoen en dis inspirerend om te sien hoe steeds op daardie fondament gebou word.

Maar, om na Willie se persoonlike stryd en uiteindelike triomf om as kunstenaar erken te word, te luister was eweneens stimulerend.

Saterdagoggend het ek Michael de Cordeur oor die bundel Ons kom van vêr (2016), wat hy en Wannie Carstens saamgestel het, gepraat. Die boek bestaan uit bydraes oor bruin Afrikaanssprekendes se rol en ontwikkeling van Afrikaans.

Sondagoggend was ek vroeg daar. Nogmaals ’* helder sonskyndag, en verrigtinge het begin in die Dwarsrivier-toerismesaal, so 200 treë van die museum af.

Eers is dit tyd vir Steward van Wyk, kenner van Adam Small se werk, om sy lesingsvaardighede uit te stal, en hy het dit ook uitstekend gedoen. Carel van der Merwe het toe oor sy boek Donker stroom (2015) vertel ook sommer, so uit die vuis, van mites en ikoon-skeppings. Helaas, só het volke helde nodig, veral in onseker tye, en veel, veel later word hulle kleivoete weggeslaan.

Darryl David, feesiniseërder extraordinaire, het toe oor sy drie fotoboeke wat etlike van die mooiste kerke in die land insluit vertel, hoe hy en sy vriend Philippe Menache gestoei het oor wie se foto’s geplaas sou word en hulle stryd om uitgewers te vind, asook hoe hy soms sy lewe gewaag het om daardie één foto van ’n kerk iewers in die boendoes te kry.

Ekself was volgende, om te vertel van my jeugroman Een teen Adamastor (Pearson, 2013), wat oor slawerny in die 1800s handel, en by Pniël se eie ontstaansgeskiedenis aansluit.

Die program het skielik in ’n hoër rat oorgeskakel, want die volgende item was in die kerk teen die heuwel, die laaste een voor middagete en met niemand anders as Helen Zille, Wes-Kaapse premier wat met Darryl David in gesprek sou wees nie.

Sy het vertel van die vreemde wyse waarop sy burgemeester van Kaapstad geword het, dat sy al dagga gerook het, van haar man die individualistiese akademikus, van FW de Klerk se rol in die huidige politieke bestel, oor onrealistiese grondeise en dat sy nog ’n boek beplan.

Sy het ook op patrone in menslike gedrag gewys – dat die geskiedenis homself herhaal: die ou Natte het ras as hefboom vir hulle aspirasies gebruik en so maak die huidige regering ook.

Waar sommige dinge nou slegter is as tevore, is daar ander wat beter is, reken sy, en daarom het sy altyd hoop.

Die fees, ’n hoogtepunt in die geskiedenis van die historiese Pniël , is dus op ’n hoë noot afgesluit en menige feesganger is daar weg met die hoop dat daar volgende jaar nóg ’n fees sal wees.

En hoekom nie? Die geskiedenis is mos veronderstel om homself te herhaal.