36 jaar later; oor bagasie en ’n koshuis

Die eerstejaarseksie (duidelik manne met n geskiedenisbewussyn) waarvan ek (in die middel agter) deel was. Vyf van hierdie dertien was by die reünie.

So, ’n vriend van my praat altyd van “klein geskiedenis-sies” – ons eie ervarings. Soos hierdie een wat baie mense moontlik self al beleef het.

“Haai Bok, gisteraand was nogal ’n belewenis. Vanoggend wakker gelê. Gedink aan hoe 36 jaar verbygegaan het. Elke lewe is ’n reeks besluite en afdraaipaaie. Om Eendrag toe te gaan was een van my beteres.

“Soos jy gesê het, in ’n sekere opsig was dit ’n moeilike tydperk, soos om werk te kry – en in ander dalk weer gunstig, soos die tyd waarin ons studente kon wees.

“Ja, sommige mense groei nie, en ander weer soveel dat hulle skaars herkenbaar is. Miskien het dit te doen met wat jy met jou saamgebring het.

“Wat my herrinner aan die eerstejaar Peter Nutt, wat sy aankoms by Eendrag die primarius gebied het om sy tasse te dra… ja elkeen het maar sy handicaps in die lewe om te bestuur, elkeen vaar maar net so goed as wat sy keuses is. In daardie opsig het eintlik niks sedert 1980 verander nie.”

Bovermelde het ek aan my vriend sedert studentedae, Hennie (Bok) Smit, geskryf die oggend na die koshuisreünie op Vrydag 8 Julie.

Wat ek nie tóé geskryf het nie, is wat ek nou hier skryf: dis ’n tweesnydende swaard, so ’n herontmoeting met die fisiese omgewing met jou tydgenote.

Daar was regte outoppie-Eendragters daar, ouer weergawes van ons, terwyl die jongeres ons aan die sorgelose, onnosele jeug-weergawes van onsself herinner het. Iewers tussenin is ons nou, maar nie vir lank nie.

Sommige dinge (en mense) het min of glad nie verander nie, en ander is onherkenbaar.

Aan die een kant is daar nostalgie en al die onthou-jy- nogs en aan die ander kant die vreesaanjaende ouderdom: hoe oud en broos het ons nie geword nie.

Ja, sommige veel meer as ander, op die oog af, hoewel die mees robuuste onder ons more aan ’n hartaanval kan beswyk.

Of ons kan nog byna twee maal so oud word – ons is in ons vroeë vyftigs.

Maar van nou af is gesondheid gelyk aan lewenskwaliteit, meer só as groot bankrekenings.

Nietemin, ons koshuis Eendrag is nou 55 jaar oud. Die ontspanningsaal, waar ons destyds gedoop is, bevat nou ’n “argief” (eintlik museum), daar waar jy nou met ’n toegangskaart ingaan.

Ons staan bedremmeld voor die deur en sien dan een van die ander deure is oop, ek en Bok en Jozua Lambrechts, wat vier jaar na ons eerstejaar was.

Ons stap in, terug in tyd (was Karel Schoeman reg dat die verlede ’n ander wêreld is?), ons kyk na wat verander het en wonder of ons reg onthou.

Ons praat oor kennisse – dié wat ons kan onthou, en sien anderkant die “Quad” is nou ’n kroeg langs die eetsaal. The Eagles Bar. Ons skud ons koppe. Wat n óg?

’n Jonger Eendragter “rus” op die klam grasperk (dis koud, dis winter, en hy sê soos Kallie Knoetze na John Tate hom neergevel het). Hy word later weggehelp.

Die ouer manne glimlag – hoeveel sulke toneeltjies het hulle al gesien?

Maar, geen verdere oordadig-heid behalwe een luidrugtige lied en sporadiese houe met eetgerei op die tafels.

Ek merk hoe ouer die aanwesiges, hoe stiller is hulle, en dis asof die jongeres wil opmaak daarvoor.

Volgens my naamplaatjie is ek Francois Venster, en Bok het Smith geword, terwyl Inus Marais herdoop is na Johannes, en ons lag daaroor – is dit tekens van die “born frees” wat nie meer kan spel nie? In die “argief” gaan soek ons na bekendes.

Ek sê “Kyk daar is Chief” (Johan Theron), en wys na ’n foto tussen voormalige primarii, en hier stap hy in met ’n breë glimlag; die oue kom voeg hom by die jongere weergawe.

Ons kyk na artefakte, loop na die seksies waar ons ingewoon het, staan voor kamerdeure wat nou groot slotte aan het, loop uit op die balkon, waar ’n paar jaar terug ’n brand uitgebreek het en kyk na die grasperk waar ons raak-rugby gespeel het, haal ou staaltjies van die geheue se rakke af… lag baie, maar tog met ’n mate van verwondering en soms spyt.

Later eet ons spitbraai en slaai in die eetsaal waar nou ander prente teen die mure hang.

Ons praat oor alles wat al daar afgespeel het – van ministers tot Jimmy Abbott wat al daarheen genooi is, en in die hoek is nou ’n “heldegalery” van bekende oud-Eendragters, die manne wat dit “gemaak” het in die lewe.

Ons lig ons glase vir hulle en vir ons, met dankbaarheid vir wat ons ontvang het.

Veral vir die geborgenheid en die vriendskappe. Dáár het ons geleer om te leef.