Taalmuseum gesels oor koeksisters en koesisters

Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), die ATKV en LAPA Uitgewers vier vanjaar op Saterdag 20 Mei gesamentlik Internasionale Museumdag met ’n spesiale byeenkoms in die Paarl.

Volgens Michael Jonas, direkteur van die ATM, word Museumdag jaarliks wêreldwyd op of rondom 18 Mei gevier, sedert dit in 1977 deur die Internasionale Komitee van Museums ingestel is:

“Die doel daarvan is om mense bewus te maak van die belangrike rol wat museums in die samelewing speel. Vanjaar se tema is ‘Museums en omstrede geskiedenisse: Sê die onsêbare in museums’.

“Ons viering sal fokus op die Afrikaanse gemeenskap se koserfenis – ons het nie almal dieselfde tradisies nie, maar wel baie gedeelde erfenisse wat voorheen soms misken is en ons nou kan omarm.”

Drie bobaasbakkers sal oor die onderwerp “Dis my koeksister en jou koesister” gesels. Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker, Suid-Afrika se gunsteling-tannies van Bonteheuwel in die Kaap, het bekendheid verwerf met die deel van hul resepte op RSG.

Hulle het reeds twee kookboeke uitgegee en het hul eie kookprogram op televisie.

Die derde deelnemer is Gonny du Plessis, voorsitter van die Suider-Paarl tak van die Vroue Landbouvereniging (VLV). Sy is amper 40 jaar by die VLV betrokke en het ’n groot belangstelling in die bakbedryf. Shireen Crotz van die WOW-Spelfees is die gesprekleier.

Dr Willem Botha van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) sal oor die herkoms van die woord koeksister gesels.

Die rieldansgroep Betjies van Betjiesfontein sal om 9vm en weer om 12.30nm op die voorstoep van die museum optree.

Die funksie begin om 10vm in die Historium Konferensiesentrum langs die Afrikaanse Taalmuseum in Pastorielaan, en duur tot 1nm.

Die boeke Kook saam Kaaps en Soettand sal te koop wees. Bywoning is gratis en sluit ligte verversings in, maar plek is beperk. Bespreek by Nkita Pietersen by 021 872 3441 of student@taalmuseum.co.za

Die Taalmuseum sal van 8vm tot 2nm oop wees, en toegang is gratis.

Opvoedkundige program

Die ATM bied gedurende Mei ’n spesiale opvoedkundige program ter viering van Internasionale Museumdag en Afrika-dag aan. Ses skole sal die museum besoek vir ’n multi-media-aanbieding en die monument vir ’n opvoedkundige toer. Die interaktiewe program fokus op Afrikaans, asook op die Trans-Atlantiese slawehandel, wat deel vorm van die Sosiale Wetenskap Nasionale Kurrikulum-assessering vir graad 7-leerders in die tweede skoolkwartaal. Vir meer inligting, kontak Janine Brown by tel 021 872 3441 of opvoeding@taalmuseum.co.za