Rieldansers reg vir finaaal in Paarl

Die rieldans kan met reg as die oudste danssoort in Suider-Afrika gereken word omdat die hedendaagse vorm direk na die Khoi-San, die eerste bewoners van die streek, herlei word.

Die ATKV-Rieldansfinaal vind op 3 Desember in die Paarl plaas.

Die jong rieldansers van die Kammiesberg-rieldansgroep van Garies is eers by die skool gespot oor die gedansery. Deesdae wil almal daaraan deelneem en dis g’n wonder nie, want dié groep is een van die finaliste in die ATKV-Rieldansfinaal wat eersdaags plaasvind.

Serena Cloete, groepleier, sê dis die jonges van die dorp wat rieldans. “Die ouer garde wil ook dans – die gees is daar, maar die vlees is swak,” sê sy.

Die Kammiesberg-groep het in 2007 begin rieldans. “Dis ons kultuur en ons erfenis. Ons voorouers het nie vir ons geld nagelaat nie, maar wel die riel.”Die rieldans kan met reg as die oudste danssoort in Suider-Afrika gereken word omdat die hedendaagse vorm direk na die Khoi-San, die eerste bewoners van die streek, herlei word.

Vanmelewe het die Khoi-San * á ’n goeie oes of jagtog en by hul verskeie feeste al sirkelend om die vuur gedans. Baie van die passies word vandag nog steeds in ’n sirkel gedoen. In Nama staan die dans as die khapara bekend en is veral bekend vir die vernuftige voetwerk en energieke pas waarmee dit gedans word. In Afrikaans het die dans die rieldans geword vanweë die ooreenkomste wat dit met die Skotse “reë* ” het.

Die dansers wat die dans vandag beoefen, probeer dan ook deur middel van die kleredrag iets van daardie era weergee. Die riel het veral te make met die liefdespel en om dit te illustreer word diere en voëls nageboots.

Die askoekslaan is ’n bekende deel van die rieldans waar die regtervoet gedurende die dans vinnig en sekuur bokant die linkerknie geplaas word. Die rieldans word veral in die Noord-Kaap en Karoo en enkele ander streke gedans. Die ATKV het in 2006 die eerste kompetisie in sy soort aangebied.

Serena sê haar groep kan nie wag om te dans in die finaal wat op 3 Desember in die amfiteater van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl plaasvind nie. “Die ding (halfeindronde) op Clanwilliam was groot en ons was op ons senuwees. Maar ons is nie op ons senuwees vir die finaal nie. Ons kan nie wag om te dans nie en ons kry ook nie grootkop nie,” sê sy.

Kaartjies vir die ATKV-Rieldansfinaal is by Computicket beskikbaar. Kaartjies kos R70 en R100. Hekke maak om 16:00 oop. Die hoofprogram begin om 19:00. Eie eetgoed is welkom.

Vir meer inligting of onderhoude skakel Benjamin Bock by 074 235
2635.