Drie gewilde Afrikaanse woordkunstenaars kuier op Donderdag 11 Augustus by die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl, ter viering van Taaldag. Dit is die vierde jaar dat dié spoggeleentheid in samewerking met die Wynland Dameskring aangebied word.
Vanjaar se tema is “Pure Paarl Plesier”. Op die program is gedigvoorlesings deur radio-omroeper Margot Luyt, sang deur operasanger en TV-aanbieder Lynelle Kenned, en ’n optrede deur die Paarlse musikante André Terblanché en Winand Grundling, met ’n uittreksel uit hul produksie Ballade vir ’n Backtrack.
Taaldag word jaarliks gevier om die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) op 14 Augustus 1875 te herdenk.
Die GRA het hul daarvoor beywer om Afrikaans as lees- en skryftaal te vestig en het die eerste Afrikaanse koerant, Die Afrikaanse Patriot, in 1876 gepubliseer.
Die funksie begin om 7nm, in die Historium Konferensiesentrum langs die Afrikaanse Taalmuseum in Pastorielaan. Plek is beperk. Kaartjies is teen R100 beskikbaar by die Wynland Dameskring, by 021 863 1422 of 082 414 2278.
Die kaartjieverkope is ten bate van die Dameskring se beursfonds vir behoeftige Afrikaanse studente en die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se leesprojek vir kinders, Laat ons Lees! Gaste word aangemoedig om ’n Afrikaanse kinderboek, nuut of tweedehands, saam te bring ter ondersteuning van dié leesprojek.