Prins maak debuut by gewilde Nederburg-konsertreeks

Megan-Geoffrey Prins

Die jong Suid-Afrikaanse konsertpianis, Megan-Geoffrey Prins, maak op Sondag 26 Junie sy eerste buiging by die gewilde Nederburg-konsertreeks in Paarl.

Hy kan gehoor word in die jaarlikse Nederburg-debuut-konsert wat in pas met Jeugmaand aangebied word.

Vir hierdie spesiale konsert word uiters talentvolle jong musici wat oorsee studeer, of beduidend daarheen oppad is, uitgenooi om by Nederburg op te tree.

Prins, wat reeds ’n hele rits toekennings en pryse agter sy naam het, word allerweë beskou as ons land se voorste opkomende pianis.

Deesdae bevind hy homself as doktorale student in die VSA waar hy onder die wakende oog van die befaamde internasionale pianis Antonio Pompa-Baldi verder vir ’* professionele konsertloopbaan voorberei.

Sy pad na die beroemde Cleveland-musiekinstituut in Ohio waar hy tans studeer, begin in die klein Wes-Kaapse dorp Riversdal.

Op vyf-jarige ouderdom neem hy sy eerste klavierles by sy moeder, maar soos die meeste jong seuns is hy ook lief vir sport en word hy ’n kranige krieketspeler.

Kort voor lank kom sy onmiskenbare musikale talent onder die aandag van Dr Mario Nell in Stellenbosch en op agt-jarige ouderdom begin hy met klavieronderrig by dié bekende onderwyser.

Toe die jonge Prins sy eer- ste musiekkompetisie wen, is krieketspeel iets van die verlede en word sy weg gebaan vir ’n lewe as konsertpianis.

As student aan die Universiteit van Stellenbosch wen hy alle moontlike pryse en voltooi hy ‘n B.Mus-graad met professors Nina Schumann en Luis Magalhães as sy klavier leermeesters.

As solis tree hy saam met die voorste simfonie-orkeste in Suid-Afrika op en optredes in Italië, Frankryk en Switserland word sedertdien by sy indrukwekkende CV ingesluit.

Vir die konsert by Nederburg kan die gehoor uitsien na ’n virtuose program van bekende klavierwerke – Josef Haydn se Klaviersonate in C mineur, boek een en twee van Jo-hannes Brahms se monumentale Variasies op ’n tema van Paganini en Sergei Rachmaninov se geliefde Corelli-variasies. Die uitvoering sluit ook een van Olivier Messiaen se Vingt regards sur n ’enfant-Jésus (20 bepeinsinge oor die baba Jesus) in.

Die uitvoering vind plaas in die Nederburg-herehuis, en begin om 5nm.

Kaartjies teen R250 sluit Nederburg-wyne en ’n heerlike vingerete na afloop van die konsert in.

Besprekings kan gemaak word by 021 877 5123, of by concerts@distell.co.za