Ommietafel help taalheling aan

Ter viering van Taaldag, bied die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) asook die Vriende van Afrikaans (VVA) vanjaar weer hul Ommietafelgesprek, op Donderdag 16 Augustus aan, by Middelvlei Wynlandgoed, Stellenbosch.

Die aand se tema is “Afrikaans se komvandaan?” wat sal fokus op die ontstaan van Afrikaans, asook die diverse wortels van die taal.

Dit is deel van die VVA se gesprekreeks waarmee hulle forum skep vir mense uit verskillende gemeenskappe en agtergronde en met diverse menings – op dié manier neem die ATM en VVA op voetsoolvlak deel aan die proses van nasiebou en taalheling.

Die gesprekleier is ATKV bestuurder Almero Oosthuizen, en die inleier die aktivis Dr Willa Boezak. Almal, veral jonger mense, word uitgenooi om ook bydrae te lewer, hul ervarings te deel en insette te lewer.

Taaldag herdenk die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) op 14 Augustus 1875.

Die GRA het ’* belangrike rol gespeel om Afrikaans as lees- en skryftaal te vestig, en het die eerste Afrikaanse koerant, Die Afrikaanse Patriot, in 1876 gepubliseer.

Gaste word daarom aangemoedig om ’* kinderboek, nuut of tweedehands, saam te bring vir die VVA se boektrommelprojek, en die ATM se leesprojek, Laat ons Lees! Bespreking is noodsaaklik. Toegang is gratis en spys en drank sal aan almal bedien word. Kontak chareldinev@vva.atkv.org.za of 021 880 1761/43.