My Woordplaneet

My Woordplaneet (My Planet Word) is Chris van Niekerk, regs, se nuutste aanbieding wat op 2 en 3 November by die Drostdy-teater op Stellenbosch op die planke is.

Van Niekerk doen voorlesings, in Afrikaans en Engels, van ouer en meer kontemporêre digters se werke. Hy gebruik onder andere gedigte van Breyten Breytenbach, William Shakespeare, Antjie Krog, N.P. Van Wyk Louw en Nina Cassian om geestesprente met sy kenmerkende stem te skilder.

“Ek lees gedigte en werke wat die trefkrag het wat ek glo in goeie skryfwerk teenwoordig moet wees, veral wanneer daarna geluister word,” sê Van Niekerk. “Die voorlesings skakeer van lig na donker, soms snaaks, soms met ‘* traan, soms met albei.”

Van Niekerk, bekend vir sy werk in Terug na Egipte, Vlug na Egipte, 7de Laan en die verhoogproduksies Pa en Liewe Heksie Flower Power, se stem word dikwels op radio gehoor. In 2015 het hy ook Ligvanger, ‘n foto-uitstalling, by die jaarlikse Woordfees aangebied.

My Woordplaneet word op 2 November om 3nn en 3 November om 8.15nm aangebied. Kaartjies kos R100 (R60 vir studente en pensioenarisse). Bespreek by info@drostdyteater.co.za of 087 943 2459 of besoek www.drostdyteater.co.za vir meer inligting.