Musiekvermaak vir die hele gesin word beloof met die aanbieding van die TopWineRoots Laailou Musiekfees later hierdie maand.
Die musiekfees sal op Saterdag November 19, by die Bergrivieroord in Paarl plaasvind. Feesgangers kan kies om lekker op hul laailou op die Bergrivier of vanaf die gemak van hul kampstoele die fees te geniet.
Van Suid Afrika se top kunstenaars gaan by die fees te sien wees. Die program sluit in: Karlien van Jaarsveld, Janie Bay, Tasché, Ampie, Corné Pretorius sowel as Loki Rothman en Margot Rothman.
Vir feesstigters, Corné Pretorius en Wynand de Villiers, was die resonansie van die naam belangrik, maar meer belangrik was dat die naam die regte toon daarstel, en al die elemente van die fees omarm: Die onderskeidende kristalhelder element is natuurlik dat jy die fees op jou laailou kan aanskou.
Mnr. De Villiers voeg by dat hulle beplan om dié nuwe fees jaarliks aan te bied. “Ons is bevoorreg om soveel ondersteuning vir die eerste uitgawe van die fees te hê, veral van ons korporatiewe en media borge soos TopWineRoots en Bok Radio.”
Janie Bay, ’n boorling van Paarl, sê: “Ek het so lanklaas daar opgetree. Ek sien super baie daarna uit om dit te kan doen by die Laailoufees saam met ’n amazing line-up.”
“Ek en my band sien verskriklik daarna uit om by die Laailoufees in die Paarl op te tree!’ vertel Karlien van Jaarsveld. “Ek dink nie ek het al ooit gesing waar mense vir my gekyk het terwyl hulle in laailou’s lê nie. So ja, ons sien baie uit.”
Corné Pretorius het bekendheid verwerf vir die een radiotreffer na die ander oor die afgelope twee jaar: “Ek gaan al die bekende liedjies soos Halfvol, Ek Wil Glo, Liefde is ’n Werkwoord, Vuur en Vlam, Biertjies, asook ’n paar nuwe tunes speel. Dit gaan vet pret wees.”
Die verhoog by die fees word so opgestel sodat dit toeskouers in die rivier op hul laailous sowel as toeskouers op hul kampstoele in die kampeer-feesterrein bedien. Die Bergrivieroord het staanplek vir tente asook luukse staanplek vir karavane.
Kaartjies is aanlyn by iTickets te koop en kos R260 per persoon. Volg die skakel, https://itickets.co.za/events/467083
Toegang is gratis vir kinders 7 jaar en jonger. Daar sal hope kindervermaak, eetgoed en ander aanbiedinge wees.
Besoek www.laailoufees.co.za vir die volledige feesprogram en kontak info@laailoufees.co.za vir meer inligting. Vir kampplekbesprekings by die Bergrivier-oord gaan na www.bergriverresort.co.za