Motiveringskabaret by Drostdy

Loané van Sandwyk bied by die Drostdy Teater haar motiveringskabaret op Dinsdag 21 September om 8.15nm aan. Dis nie ek nie, dis jy het ontstaan tydens ‘n lang, uitgerekte proses van omtrent drie jaar na ‘n break-up. In daardie drie jaar het sy deur ‘n see van emosies gestoei en het besef hoe snaaks dit eintlik is. Sy doen ‘n klomp sketse – dus ‘n kabaret struktuur – praat tussenin oor haar eie ervarings en sing liedjies wat sy self geskryf het waarmee sy haarself op die kitaar, ukulele en trekklavier begelei. Sy gebruik dus die struktuur van ‘n kabaret, maar het ‘n bemoedigende boodskap. Daarom noem sy dit ‘n motiveringskabaret. Is jy so pas afgesê en sit met ‘n sak verwerping op jou skoot? Vang jy soms jouself na 12 met ‘n mandjie kos in die bed? Het jy ‘n bottel van sy/haar spuitgoed gekoop om dit vir ‘oulaas’ te ruik? Dis nie ek nie, dis jy is ‘n motiveringskabaret wat die berge en dale van ‘n break-up besoek. Dis nie altyd maklik nie, en ons verstaan dit. Kom besoek ons vir ‘n uur van terapie. Ons belowe nie dat jou pyn verminder sal word nie, maar hopelik sal jou maagspiere versterk word. So los daai sakdoek, klim uit die Macdonalds ry uit en kom lag saam. Kaartjies kos R80 en kan bespreek word by 087 943 2459, www.drostdyteater.co.za of info@drostdyteater.co.za

Previous articleWaar is Katja?
Next articleBirders course
SHARE