Professor Harold Herman

Strand Biblioteekvriende nooi belangstellendes uit na ’n unieke praatjie oor die Strand, of soos vroeër beter bekend as Mosterdsbaai, se geskiedenis in beeld. Professor Harold Herman is reeds bekend vir sy interessante vertellings en foto’s oor vervloë dae in Somerset-Wes. Op Donderdag 16 November, om 10vm, sal dit egter die eerste keer wees wat hy slegs op die Strand se beginjare en ontwikkeling sal fokus. Hy sal dit toelig deur ’n reeks pragtige, outentieke fotos uit die argiewe. Interessante inligting soos die “Pavilion” se drie verskillende gedaantes, die ou hotelle (Da Gama, Majestic, ens), die Sheik Yusuf kramat en die ander kerke se ryke geskiedenis, en les bes die ou subskripsie biblioteek roep wonderlike herinneringe op. Kom deel ’n oggend van nostalgie saam met die Vriende, wanneer hul Jaarvergadering ook sal plaasvind, en daar oor ’n koppie tee en verversings verder gekuier gaan word. Kontak die biblioteek by 021 444 3106 om jou plek te bespreek.