Afrikadag by die Taalmonument

Die Lukhanyo marimba-groep van Mbekweni, Eric Godfrey, Sinethemba Nyangiwe end Zinzi Magqazana.

Die Afrika in Afrikaans is die tema van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se viering van Afrikadag, op Donderdag 25 Mei.

Dié viering sluit ’n musiekoptrede, begeleide toere en ’n spesiale opvoedkundige program in.

Die Lukhanyo marimba-groep van Mbekweni tree van 12nm tot 1nm by die Taalmonument op Paarlberg op.

Begeleide toere word vir besoekers aangebied van 8vm tot 4nm. ’n Groep van 80 graad sewe-leerders van Mary Help of Christians Primêre Skool van die Paarl is genooi om ’n spesiale opvoedkundige program by te woon as deel van die ATM se Borg-’n -bus-projek.

Volgens Michael Jonas, die direkteur van die ATM, wil die ATM met hierdie viering mense bewus maak van Afrikaans as ’n Afrikataal, die taal se Afrika-oorsprong – saam met sy Europese en Oosterse oorspronge – wedersydse invloede tussen Afrikaans en ander Afrikatale, sowel as die diversiteit van die Afrikaanssprekende gemeenskap.

Jonas sê dit is belangrik om te besef dat taalkontak tussen die Khoi-Khoi en Nederlandse seevaarders, sedert 1595, as die eerste periode in die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans beskou word.

“Die Khoi het ’n belangrike rol gespeel in die ontwikkeling van Afrikaans, waaronder vroeë vorme van Afrikaans soos Khoi-Grensafrikaans. Bekende Khoi-leenwoorde sluit in kanna, boegoe, dagga en kierie.

“Afrikaans bevat ook talle leenwoorde uit ander Afrikatale, soos isiXhosa en isiZulu, waaronder impala, mamba, pasella en indaba,” sê Jonas.

Die toegangsfooie op Afrikadag is R30 vir volwassenes, R10 vir Suid-Afrikaanse studente en pensioenarisse, R5 vir kinders – gratis onder ses jaar – en gratis vir Drakenstein-inwoners met biblioteekkaartjies.

Vir vedere informasie kontak Nkita Pietersen by 021 872 3441 of per epos by student@taalmuseum.co.za